Tuis

Vleesbaai is 'n unieke, skilderagtige kusdorpie, knus genestel in uitgestrekte wit strande en die befaamde fauna en flora wat oral langs die bekende Kaapse Tuinroete pryk.

Hier kan jy jou skoene uitskop en rustig agteroor sit met 'n glasie van die Kaap se gesogte uitsoekwyne terwyl jy kyk hoe die bekende Suidelike Noorkapper-walvisse en skole dolfyne reg voor jou stoep in die branders spring en speel. Of braai 'n vet galjoentjie - vars uit die see - op die kole terwyl die opkomende maan die strand en see in 'n sprokieslandskap omtower.

Dié ongerepte stukkie paradys word omring deur verskeie asemrowende wegkruipplekkies langs die kuslyn wat die grootpadreisigers selde raaksien - Danabaai, Boggomsbaai, Fransmanshoek, Kanon en Gouritsmond. Vleesbaai se sentrale ligging tussen dié afgesonderde idilliese natuurreservate en die bedrywige stadsvermaak in die nabygeleë Mosselbaai en George bied aan besoekers 'n wye keuse van aktiwiteite en die ideale afwisseling tussen rus en rumoer.

Diegene wat sat is vir die stad se misdaad en gedruis sal Vleesbaai se veilige, uitgestrekte strande verwelkom waar oud en jonk na hartelus in die warm Indiese Oseaan kan baljaar.