Gebied Aktiwiteite

Vleesbaai is bekend vir sy skoon, helder lug wat die sterrestelsel op sy beste vertoon. Op wolklose aande lyk dit of die maan en sterre binne reikafstand is en omdat die dorpie 'n noordoostelike aansig oor die see het, is die opkoms van die son en maan 'n onvergeetlike skouspel van lig en kleur. Die Suid-Kaap se matige Mediterreënse klimaat is 'n ekstra bonus en besoekers kan dus dwarsdeur die jaar aangename weer geniet.

Die see is relatief veilig en ook ideaal vir snorkelduik, branderplankry en strand- en rotshengel. Avonturiers kan kies en keur tussen vlieërplankry en seilplankry, terwyl die nabygeleë Gouritsbrug ook 'n groot trekpleister is vir brug- en rekspringers (bungee jumping). Die bekroonde Swart Oestervanger-staproete tussen Mosselbaai en Gouritsmond is 'n móét vir stapliefhebbers wat die wyer kuslyn wil verken.

Nog 'n aantrekkingskrag is Vleesbaai se gewilde 4x4 Duinroete - iets wat enige viertrekvoertuigeienaar behoort aan te durf. Vis is volop in die gebied en die talle rotspoele en baaitjies rondom Vleesbaai is 'n vissersparadys vir rots- en strandhengelaars. Diepsee-hengelaars kan ook die blinklywe in die oop see gaan soek by Mosselbaai waar bote vir dié doel beskikbaar is.

Móét doen-lys:
* Walvis-kyk in die baai by Vleesbaai en Fransmanshoek. In seisoentyd (tussen Junie en November) is die Suidelike Noorkapper-walvisse en hul kalfies 'n bekende gesig in die baai. Dolfyne is ewe tuis in die baai en kan dikwels gesien word waar hulle kos soek of uitbundig kerjakker.
* Die skouspelagtige Kango-grotte, asook die krokodil- en volstruisplase op Oudsthoorn is net 150 km vanaf Vleesbaai. Die pragtige roete oor die Outeniekwa-berge dra by tot 'n heerlike dag-uitstappie.

* Swem, snorkelduik, branderry en branderplankry in die warm Indiese Oseaan. Die helder seewater is ideaal vir enige watersport en die see en strand is veilig sodat kinders vryelik op die strand en in die see kan baljaar.

* Die wit sandstrand strek kilometers ver en is perfek vir vlieërplank- en seilplankry.

* Rots- en strandhengel op Vleesbaai. Die hele omgewing is bekend as 'n vissermansparadys en hengelaars kan kus en keur waar hulle lyne wil natmaak. Ander gewilde hengelplekke naby Vleesbaai is Visbaai (3 km), Fransmanshoek (3 km), Fonteintjies (3 km), Kanon (20 km) en Gouritsmond (25 km).

* Diepsee-hengel op Mosselbaai (25 km). Daar is verskeie bote wat daagliks diepsee-hengeluitstappies aanbied.

* 4x4 Duinroete op Riekie se Plaas. Hout en varkprodukte kan ook hier gekoop word.

* Tennis, muurbal en gholf. Die naaste tennis- en muurbalbane is op Boggomsbaai (8 km), maar daar is ook bane op Mosselbaai en Hartenbos. Gholfspelers kan die pragtige Pinnacle Point-gholfbaan op Mosselbaai met sy see-uitsig op die proef stel, of die wêreldbekende Fancourt-gholfbaan op George (80 km) aandurf.

* Staproete kuslangs vanaf Mosselbaai, Danabaai, Boggomsbaai, Kanon tot Gouritsmond. Die befaamde 4-dag Swart Oestervanger-staproete is al bekroon as een van die bestes in die wêreld. Dit is 'n georganiseerde staproete en daar word veral gefokus op die gewoontes en oorlewing van die bedreigde swart oestervanger. Die wye verskeidenheid van mariene-spesies en ander soogdiere, asook die seldsame plante en voëls wat langs die roete aangetref word, maak dit 'n uiters opwindende en leersame ervaring.

* Skulpversameling. Die Vleesbaai-omgewing is bekend vir die magdom pragtige skulpe wat oral langs die kuslyn uitspoel. Op sekere plekke kan groot hope skulpe nog aangetref word wat vermoedelik deur vorige bewoners daar gelaat is.

* Ander Besienswaardighede: Daguitstappies na die verskeie besienswaardighede rondom Vleesbaai bied die ideale oplossing vir daardie dae wat die weer nie wil saamspeel nie. Van die nabygeleë plekke wat beslis die moeite werd is om te besoek, sluit in die Aalwynfabriek op Albertinia, die Reins Natuur- en Wildreservaat, die Poort Wynkelders, asook die museums, geskiedkundige St. Blaize-grot en Posboom in Mosselbaai